'n Man is dood en sy ma beseer tydens 'n huishoudelike geskil
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Aug 3
- 1 min read
'n Jong man is tydens 'n huishoudelike geskil doodgesteek en 'n vrou het kopbeserings opgedoen.
Die 21-jarige slagoffer, Mothusimang Moseme, se stiefpa is in hegtenis geneem op een aanklagte van moord en een aanklag van poging tot moord.
Volgens ‘n verklaring is polisielede na ‘n toneel in Hertzogville in die Vrystaat ontbied, waar hulle na die agterkant van 'n sinkhuisie verwys is. Daar is Moseme met 'n steekwond aan die linkerkant van sy nek aangetref.
Volgens inligting het die verdagte glo die oorledene se ma binne die sinkhuisie aangerand. Die oorledene het probeer ingryp, waarna die verdagte hom na bewering in die nek gesteek het. Die oorledene het probeer wegvlug, maar het agter die sinkhuisie inmekaar gesak. Die mes wat glo tydens die misdaad gebruik is, is gekonfiskeer.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die Hertzogville-landdroshof verskyn.








Comments