'n Man is vas oor hy homself glo as 'n polisiebeampte voordoen
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Feb 12
- 1 min read
Updated: Feb 13
'n Man is in die Oos-Vrystaat hegtenis geneem omdat hy homself glo as 'n polisiebeampte voorgedoen het.
Bloem Express berig 'n polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Mmako Mophiring, sê die man se woning in Bluegumbosch, een van die woonbuurte in Qwaqwa, is deursoek en polisie het op 'n aanstellingsertifikaat, konstabel-kentekens en polisieopleidingsmodules afgekom. Daarmee saam is op polisieklere, 'n holster, ammunisie, en 'n nagemaakte wapen beslag gelê.
Die verdagte is na bewering in die gemeenskap bekend as 'n polisiebeampte wat in Harrismith ontplooi is. Mophiring sê die verdagte kon nie besonderhede verskaf van waar hy gestasioneer is nie, en kon ook nie die items in sy besit verduidelik nie.
Hy het later erken hy is nie 'n polisiebeampte nie en dat hy die uitrusting van 'n familielid gesteel het wat wel 'n beampte is.
Hy verskyn in die hof op aanklagte van vermoedelik gesteelde items, die voordoen van 'n polisiebeampte, en die besit van 'n ongelisensieerde wapen en ammunisie. Die saak word verder ondersoek.







Comments