'n Student is uit 'n mangat in Welkom gered
- Saamgestel deur Armando Pieters

- Jul 28, 2025
- 1 min read
'n Vrystaatse student is in die vroeë oggendure gered nadat hy in Welkom in 'n mangat geval het.
Die 22-jarige man het van 'n kuierplek af saam met vriende huis toe gestap toe hulle skielik besef hy gesels nie meer saam nie. Toe hulle na hom roep, het hulle hom in die mangat naby die hoek van Stateway en Koppie Alleenweg gewaar, en hulp ontbied.
Volksblad berig die reddingspoging was ingewikkeld, aangesien die brandweer by 'n brand betrokke was en nie kon help nie.
Die nooddiens ER24 en lede van die publiek het met die reddingspoging gehelp. Hy is uiteindelik, ná 'n uur, met toue uit die gat gelig.
Volgens die nooddiens 1Life911 was die gat nie afgesper nie. Daar was ook nie waarskuwingsborde nie. Die rooi-en-wit-waarskuwingslint is later deur die gemeenskap aangebring.
Volgens 1Life911 het die student geen beserings opgedoen nie.






Comments