’n Vierjarige Vrystatertjie is oorlede nadat hy glo toegang tot alkohol kry

’n Vierjarige seuntjie van Rouxville is oorlede nadat hy glo toegang tot alkohol gekry het.
Volgens die Vrystaatse polisie het die seuntjie se ma Saterdag haar huis in Rosemary Uitkoms verlaat om te gaan kuier. Sy het die kind in die sorg van ’n ander minderjarige kind gelaat.
Sy het glo Sondagoggend, onder die invloed van alkohol teruggekeer en het aan die slaap geraak.
Daar word vermoed dat die vierjarige tydens dié tyd toegang tot alkohol gekry het. Nooddienste is na die toneel ontbied, waar hy dood verklaar is.
Die ma is in hegtenis geneem en sal in die Rouxville-landdroshof verskyn op ’n aanklag van kinderverwaarlosing.
’n Geregtelike doodsondersoek is ook geopen en die ondersoek duur voort.








Comments