'n Vrystaatse polisielid skiet glo ander en toe homself
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jun 8
- 1 min read
'n Lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Hennenman in die Vrystaat het na bewering vyf mense geskiet. Drie mense is dood en twee beseer, waarna die lid glo sy eie lewe geneem het.
Volgens polisiewoordvoerder, brigadier Thandi Mbambo, dui voorlopige inligting daarop dat die lid aan diens was toe hy Sondag in die vroeë oggendure na bewering na 'n plot naby Hennenman gery het op soek na sy meisie. Die lid is toe na 'n ander plek waar daar glo ’n byeenkoms was en verskeie van die meisie se familielede teenwoordig was.
Daar het na bewering ’n argument ontstaan, waarna die lid glo op die groep losgebrand het. Die meisie, haar ma en haar oom is op die toneel dood verklaar. Twee ander slagoffers het skietwonde opgedoen.
Een is na ’n plaaslike hospitaal vervoer vir mediese behandeling, terwyl die ander op die toneel behandel is. Daar word verder beweer dat die lid ná die skietery na die voertuig teruggekeer en homself geskiet het.
Die motief vir die voorval is tans onbekend en vorm deel van ’n voortgesette ondersoek.
Sake van moord, poging tot moord en ’n geregtelike doodsondersoek sal geregistreer en deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word.








Comments