'n VS sentrum vir bejaardes word aangekla vir mishandeling
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Apr 25
- 2 min read
Strafregtelike klagte is ingedien teen ’n sentrum vir armlastige bejaardes in Vredefort in die Vrystaat weens beweerde mishandeling en blootstelling, asook bedrog met hul staatstoelaes.
Netwerk24 berig klagte is by die polisie ingedien ná ’n besoek aan die sentrum deur verskeie belanghebbendes, insluitend amptenare van die Vrystaatse departemente van maatskaplike dienste en gesondheid.
Die Vredefort Hartshuis het egter skerp op dié besoek gereageer en gesê hulle weet niks van die klagte nie. Die sentrum sorg vir mense wat op Sassa-toelaes aangewese is en haweloos gelaat is nadat niemand anders hulle wou inneem of kon versorg nie.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder die Pers Stigting in Vanderbiljpark se Annari du Plessis, wat deel was van die groep wat die sentrum besoek het, sê die toestande wat sy in die huis waargeneem het, is skokkend.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Du Plessis sê tussen 100 en 135 mense word glo in kamers en houthuise gehuisves sonder krag, lopende water of warm water. Sy sê die sentrum is baie vuil, en die bejaardes huil omdat hulle honger is en word deur weeluise gebyt. Op foto’s blyk dit mense bly selfs in tente op die erf. Een van die klagte is dat mense se Sassa-kaarte en ID’s afgevat word. Die bewering is dat tot 44 inwoners die afgelope ses maande dood is en as armlastiges in ongemerkte grafte begrawe is.
Die eienaar van die Hartshuis, Jean-Marie van der Merwe – ook bekend as Sue Vosloo of Jeanne-Marie Joubert – sê die sentrum is oorvol, maar hulle laat niemand onder bome of op sypaadjies slaap nie.
Du Plessis sê verskeie rolspelers, wat die departemente van binnelandse sake en indiensneming en arbeid insluit, gaan volgende week die sentrum vir verdere ondersoek besoek.








Comments