'n Wenk lei tot 'n dwelmvonds in Bloem se middestad
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- Jul 3
- 1 min read
Updated: Jul 6
'n Verdagte is in Bloemfontein se middestad in hegtenis geneem nadat die polisie dwelms met 'n geraamde straatwaarde van sowat R25 000 in sy besit gevind het.
Volgens 'n Vrystaatse polisiewoordvoerder, Sersant Mahlomola Kareli, volg die inhegtenisneming nadat iemand die polisie op 'n verdagte dwelmhandelaar in Charlesstraat gewys het.
Polisiebeamptes was vroeër die week besig met 'n operasie in misdaadbrandpunte in die middestad toe hulle die inligting ontvang het.
Die verdagte, wat aan die beskrywing voldoen het, is opgespoor en deursoek.
Volgens die polisie is 25 groot plastieksakke met dagga, 'n digitale skaal en 'n ongespesifiseerde bedrag kontant, wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is, gevind.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn.








Comments