Nagskofwerkers word oornag in ‘n fabriek toegsluit
- Saamgestel deur Jana Roos

- 1 day ago
- 1 min read
’n Tekstielfabriek in Tshwane is betrap waar werkers tydens nagskofte binne die gebou toegesluit is. Dit is aan die lig gebring tydens die regering se eerste gekoördineerde landwye arbeidsinspeksie.
Bloemnuus Express berig die direkteur is in hegtenis geneem nadat inspeksies getoon het dat werkers 28 rand per uur betaal is in plaas van die wettige minimumloon van 30 rand 23 sent per uur. Hulle is ook gedwing om buitensporige ure sonder oortydbetaling te werk en was van ses-uur die aand tot sewe-uur die oggend tydens nagskofte binne die fabriek toegesluit.
Daarmee saam is bevind werknemers is nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) of die Vergoedingsfonds geregistreer nie, het geen dienskontrakte gehad het nie en is nie van persoonlike beskermende toerusting voorsien nie.
Werknemers het ook gekla dat hulle slegs ’n week lank in Desember verlof kry, eerder as die jaarlikse verlof waarop hulle geregtig is. Adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Jomo Sibiya, het onderneem om alle agterstallige lone wat aan die werkers verskuldig is, te bereken en te verhaal.








Comments