Nog ’n verdagte is in hegtenis ná ’n bejaarde Vrystater se ontvoering

’n Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met die beweerde ontvoering en afpersing van ’n bejaarde man in Welkom.
Volgens die Vrystaatse polisie is die man in Botshabelo opgespoor.
Die saak hou verband met die voorval waarin die 67-jarige man glo ontvoer en van R55 000 afgepers is. ’n Vrou is reeds in verband met die saak in hegtenis geneem nadat sy die slagoffer glo na ’n vergadering gelok het onder die voorwendsel dat sy vir sy seun ’n werksgeleentheid in die mynbousektor kon reël.
Ondersoekers het vasgestel dat die man telefonies met die slagoffer in verbinding was om die vergadering te reël. Hy was ook glo verskeie kere in kontak met die vrou wat reeds in hegtenis geneem is.
Die man sal op aanklagte van ontvoering en afpersing asook die nabootsing van ’n polisiebeampte in die hof verskyn.









Comments