OGGEND SPORT: Curriebeker-aksie kry momentum, Blommetjies bereik ‘n groot Cheetah-mylpaal en SA se Statebondspele-veldtog begin
- Saamgestel deur Jana Roos

- 2 days ago
- 2 min read
Ons skop af met rugby-nuus: Die tweede ronde van die Carling Curriebeker-premierafdeling skop Vrydag af met ‘n kragmeting tussen die Toyota Cheetahs en Hollywoodbets Sharks XV in Bloemfontein. Die DotSure SWD Eagles gaan Vrydagaand in George as gasheerspan vir die Valke optree in die eindstryd van die eerste afdeling.
Saterdag kom die Fidelity ADT Lions teen die Airlink Pumas te staan, en die Suzuki Griquas huisves die Vodacom Bulls XV.
Die naweek sluit Sondag af met ‘n Wes-Kaapse derby in Wellington, waar die Sanlam Boland Kavaliers die DHL Stormers XXIII ontvang, met albei spanne wat mik na ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning.
Intussen is Vrydag se wedstryd ook ’n besondere mylpaal vir heelagter Clayton Blommetjies, wat sy 150ste wedstryd vir die Toyota Cheetahs sal speel.
Blommetjies het in 2014 sy debuut vir die Vrystaat-span gemaak en het sedertdien een van die unie se mees lojale spelers geword. Blommetjies sê die Vrystaat is sy tuiste, en dit is waar alles vir hom begin het. Hy sê hy geniet die tipe rugby wat hier gespeel word – hardloop rugby. Blommetjies sê dit is ’n voorreg en ’n eer om vir sy 150ste wedstryd vir die Cheetahs op die veld te draf.
En, in atletiek-nuus: Die openingseremonie van die Statebondspele het Donderdagaand in Glasgow plaasgevind, nadat die eerste sportaksie vroeër die dag begin het.
Suid-Afrika neem vir die negende keer deel en word deur 112 atlete in tien sportsoorte verteenwoordig, met Bridget Herselman as vlagdraer en Shaun Williams wat die aflosstokkie oorhandig het.
Bongiwe Msomi dien as Suid-Afrika se spanbestuurder, terwyl die land onder meer in swem, atletiek, netbal, boks, judo, gimnastiek, rolbal, baanfietsry, 3×3-rolstoelbasketbal en gewigoptel gaan meeding.
Die swem uitdunne begin Vrydagoggend, terwyl die netbaltoernooi Saterdag afskop met die Statebondspele wat duur tot volgende Sondag.








Comments