OGGEND SPORT: Die Proteas-vroue aanvaar die rol as buiteperde, Djokovic skitter en vier sterf tydens vieringe in Meksikostad
- Saamgestel deur Jana Roos

- Jul 2
- 2 min read
Ons slaan af met krieket-nuus: Die Protea-vroue kaptein, Laura Wolvaardt, glo die druk sal op die gasheerland, Engeland, rus wanneer die spanne in die T20-Wêreldbeker-halfeindstryd kragte meet, by ‘n uitverkoopte skare by The Oval wat die tuisspan sal steun.
Wolvaardt is vol vertroue dat Suid-Afrika weer vir Engeland kan verras, aangesien hulle die span reeds in die halfeindstryde van die 2023 T20-Wêreldbeker en die 2025 Eendag Internasionale Wedstryd-Wêreldbeker geklop het. Wolvaardt het die vertonings van die boulaanval geprys en veral Marizanne Kapp en Shabnim Ismail uitgesonder vir hul bydrae tydens die kragspel, maar erken dat die kolwers nog nie hul beste vorm getoon het nie.
In tennis-nuus: Novak Djokovic het ‘n oortuigende oorwinning in skoon stelle oor Stefanos Tsitsipas behaal om deur te dring na die derde ronde van Wimbledon, terwyl die wêreldnommer-een, Jannik Sinner, ook gevorder het ondanks nog ‘n vertoning wat onder sy gewone standaard was.
In die vroue-afdeling is die Franse Ope-kampioen, Mirra Andreeva, in die tweede ronde uitgeskakel nadat sy teen die voormalige Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova, verloor het, terwyl die topgekeurde Aryna Sabalenka, asook Naomi Osaka, Coco Gauff en Jessica Pegula, almal deurgedring het.
Serena Williams se beplande terugkeer in die dubbelspel word deur ‘n kniebesering in twyfel getrek, hoewel haar verteenwoordigers sê sy doen alles in haar vermoë om fiks te wees en later vandeesweek saam met haar suster Venus te speel.
En, in Wêrledbeker sokker-nuus: Minstens vier mense is in Mexikostad oorlede tydens vieringe nadat Mexiko se oorwinning van 2-0 oor Ecuador vir hulle ‘n plek in die laaste sestien van die FIFA-Wêreldbeker verseker het.
Drie mense het in die massiewe skares versmoor, terwyl ‘n vierde slagoffer tydens die vieringe ‘n noodlottige epileptiese aanval gehad het. President Claudia Sheinbaum het haar medelye en steun aan die families van die oorledenes betuig.
Meer as ‘n miljoen ondersteuners het ná Mexiko se oorwinning in die strate feesgevier, terwyl die span Sondag in die laaste sestien teen Engeland te staan kom.








Comments