OGGEND SPORT: Erasmus kies ervaring bo jong bloed, die Protea-vroue berei voor vir ‘n historiese tuisreeks en, Everton verhoog druk op ‘n sukkelende Newcastle

Ons begin met rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, maak op ervaring staat vir Saterdag se toets teen Italië in Turyn, met geen debutante in die 23-tal nie en Salmaan Moerat die enigste speler wat sy eerste wedstryd van die seisoen vir die Bokke gaan speel.
Die span bevat verskeie gevestigde kombinasies, met Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit en Jasper Wiese in die lostrio, Damian de Allende en Jesse Kriel as senterpaar, en Thomas du Toit, Malcolm Marx en Ox Nché in die voorry.
Erasmus het Italië as ’n gehaltespan beskryf wat voor sy tuisskare besonder gemotiveerd sal wees, veral met die oog op die 2027-Wêreldbeker, terwyl hy ook hoop om die ses jong spelers op toer later teen sterk teenstanders blootstelling te gee.
Die Bokke begin Saterdag ’n uitdagende reeks wat Frankryk op 13 November en Ierland op 21 November insluit, met Erasmus wat beklemtoon dat ’n sterk wegspring teen Italië noodsaaklik sal wees om hul doelwit in die Nasieskampioenskap te bereik.
In krieket-nuus: Die Protea-vroue se eerste tuisreeks ooit teen Australië is herskeduleer om van 24 Maart tot 18 April 2027 plaas te vind, na aanleiding van die bevestiging van die eerste IKR-kampioenetrofee vir vroue in Februarie.
Die toer sal drie T20-internasionale wedstryde in Kimberley, Benoni en Potchefstroom insluit, gevolg deur drie eendagwedstryde in Durban, die Paarl en Gqeberha. Die eendagreeks vorm deel van Suid-Afrika se kwalifiseringsveldtog vir die Krieketwêreldbeker in 2029.
Die historiese besoek sluit af met 'n eenmalige toetswedstryd by Buffalo Park in KuGompo City van 15 tot 18 April en sal die eerste keer wees dat dié stadion 'n toetswedstryd vir vroue aanbied.
En, in sokker-nuus: Everton het die druk op Newcastle verhoog ná 'n 1-0-oorwinning in die Premierliga op St James' Park, wat Everton na die sewende plek laat skuif het, terwyl Newcastle na die 13de plek teruggesak het.
Die nederlaag beteken dat Newcastle vier van hul laaste vyf wedstryde in alle kompetisies verloor het, en bestuurder, Matthias Jaissle, staan onder toenemende druk voor Saterdag se kragmeting teen Fulham.
Everton het hul tweede oorwinning oor Newcastle in vyf dae behaal, ná hul sukses in die Ligabeker verlede Donderdag en het terselfdertyd 'n reeks van twee opeenvolgende liganederlae beëindig met hul eerste wegholoorwinning in die liga sedert Februarie.










Comments