OGGEND SPORT: Human staan vas by sy Bok-skrumplan, Pretorius en Fortuin lei die Proteas na oorwinning, en Zheng skenk aan vloedverligting terwyl Wawrinka uitval
- Saamgestel deur Jana Roos

- 6 days ago
- 2 min read
Ons begin met rugby-nuus: Springbok-skrumafrigter, Daan Human, het die All Blacks afrigter, Dave Rennie, se bewerings dat Suid-Afrika doelbewus om die skrum beweeg, sterk verwerp en gesê hy het nog nooit so ’n taktiek afgerig nie.
Human sê die Bokke se skrumbenadering is al ses jaar lank deel van hul spel en hoewel hulle soms moet aanpas by skeidsregters se interpretasie, sal hulle nie hul tegniek verander sonder ’n opdrag van Rassie Erasmus nie.
Hy beklemtoon dat die skrum steeds ’n belangrike deel van Suid-Afrika se rugbykultuur en die span se brood en botter is, terwyl die Bokke daarop fokus om hul sterkpunt verder te verbeter.
LUISTER HIER:
In krieket-nuuus: Lhuan-dre Pretorius het 94 lopies aangeteken en kaptein Bjorn Fortuin het vier paaltjies geneem toe die Proteas vir Zimbabwe met 43 lopies in Windhoek geklop het, wat hulle na die bopunt van die punteleer in die T20 Internasionale-driehoekreeks skuif.
Pretorius en Jordan Hermann het vir Suid-Afrika ‘n blitsige begin besorg met 59 lopies tydens die kragspel, waarna Pretorius en Dewald Brevis 86 lopies vir die tweede paaltjie bygedra het.
Die Proteas het laat in hul beurt ses paaltjies vir 31 lopies verloor, maar steeds ‘n totaal van 185-7 opgestel, terwyl Fortuin en Duan Jansen deur Zimbabwe se topkolwers gebreek het en hulle op 54-7 gelaat het.
Sikandar Raza het weerstand gebied met 45 lopies en Newman Nyamhuri het 27 aangeteken, maar Zimbabwe is uiteindelik vir 142 lopies uitgeboul.
En in tennis-nuus: Olimpiese tenniskampioen, Zheng Qinwen, het sowat twee-komma-vier miljoen rand aan noodlenigingspogings geskenk ná dodelike kitsvloede en grondverskuiwings langs die grens tussen China en Nepal, met byna vierduisend mense steeds vermis en meer as 900 dood verklaar.
Die 23-jarige Zheng, wat tans by die Amerikaanse Ope speel, het ook ná ’n aardbewing in Tibet in 2025 ’n soortgelyke bedrag geskenk.
Intussen het die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen, Stan Wawrinka, sy laaste Grand Slam-wedstryd verloor toe Matteo Berrettini hom in reguit stelle met 7–6, 7–6, 6–0 in die eerste ronde geklop het.







Comments