top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

OGGEND SPORT: SA-krieket wen die driereeks-titel met gemak, die Griekwas en die Pumas bespreek ‘n plek in die eindstryd en, Lawrence deel die Ballesteros rekord

Writer: Saamgestel deur Jana Roos
Saamgestel deur Jana Roos
Sep 7
2 min read

Ons slaan af met krieket-nuus: Suid-Afrika het die T20 internasionale-driereekstitel gewen met ‘n oortuigende oorwinning van 48 lopies teen Zimbabwe in Windhoek, deur 205-5 aan te teken voordat hulle die gasheerspan vir 157 lopies uitgeboul het.


Jordan Hermann het die Proteas se kolfwerk gelei met sy eerste T20 internasionale-vyftigtal van 53 lopies van 29 balle, terwyl Duan Jansen, Eathan Bosch en Bjorn Fortuin die paaltjies onder mekaar gedeel het toe Zimbabwe tot 83-8 teruggesak het.


Hermann is as die speler van die wedstryd aangewys, terwyl Lhuan-dre Pretorius die toernooi se beste kolwer was met 226 lopies, Dewald Brevis die speler van die toernooi is, en Jansen die beste bouler met 11 paaltjies.


Die Proteas-kaptein, Bjorn Fortuin, sê die oorwinning dra by tot die bou van die span se wenmentaliteit.


LUISTER HIER:


20260907sBjorn-Fortuin

 

In rugby-nuus: Die Suzuki Griekwas en Airlink Pumas sal meeding in die eindstryd van die 2026 Carling Curriebeker-premierafdeling, wat Saterdag in Kimberley plaasvind, nadat hulle onderskeidelik die Fidelity ADT Lions en die Toyota Cheetahs in die halfeindstryde geklop het.


Die Griekwas het met ‘n oorheersende vertoning sewe drieë gedruk en die Lions met 52-12 verslaan, met Lourens Oosthuizen wat twee keer gaan druk het, terwyl George Whitehead en Stefan Coetzee ook sleutelrolle gespeel het.


Clinton Swart se akkurate skopwerk in Bloemfontein, tesame met drieë in die tweede helfte deur Darren Adonis, Andre Goedhals en Gustav du Rand, het die deurslag vir die Pumas geggee om die Cheetahs met 27-24 te klop.


Die eindstryd word by die Suzuki-stadion gespeel, waar die Griekwas as gasheer sal optree teen ‘n Pumas-span wat hul enigste Currie beker-titel in 2022 tot dusver gewen het.

 

En, in gholf-nuus: Suid-Afrika se Thriston Lawrence het sy naam langs die legendariese Spanjaard, Seve Ballesteros, geplaas as ’n driemalige wenner van die Switserse Meesters nadat hy Paul Casey in ’n uitspeelstryd geklop het.


Lawrence het die laaste ronde ses houe agter Casey begin, maar met ’n briljante 62, agt onder baansyfer, die klubhuisleier op 18 onder geword, waarna Casey se fout op die 18de putjie ’n uitspeelstryd afgedwing het. Lawrence het op sy vierde poging ’n uitstekende voëltjie ingesink om die titel te beklink en ná ’n moeilike seisoen sy emosies vrye teuels gegee.


Hy het sy eerste Europese Meesterstitel in 2022 gewen en verlede jaar weer in Switserland geseëvier, en sê dit is ’n besondere eer om nou ’n rekord met Ballesteros te deel.


Ter illustrasie. FOTO: Wix
Ter illustrasie. FOTO: Wix

 

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page