Op Moedersdag moet vroue se finansiële druk ook gesien word
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 10
- 1 min read
Moedersdag behoort nie net ʼn dag van dankie-sê te wees nie, maar ook ʼn geleentheid om die finansiële druk waaronder baie vroue leef, raak te sien en te begin pak.
Maroela Media berig Momentum Advice waarsku dat talle Suid-Afrikaanse vroue reeds as die “finansiële bestuurders” van hul huishoudings optree, sonder die nodige hulpmiddels, ondersteuning of finansiële advies. Volgens navorsing van die Buro vir Marknavorsing is byna 80% van finansieel kundige vroue die hoofbesluitnemers oor geldsake in hul huishoudings.
Die hoof van handelsbemarking by Momentum Advice, Cebile Zibi, sê ma’s bestuur veel meer as net geld in hul huishoudings; hulle moet voortdurend aanpassings doen op grond van uitgawes soos skoolgeld, kruideniersware, vervoer en stygende lewenskoste. Die maatskappy sê baie vroue moet in baie gevalle ook tegelykertyd vir hul kinders én ouers sorg, en sonder behoorlike beplanning gebeur dit dikwels ten koste van hul eie finansiële toekoms.
Zibi sê Moedersdag behoort daarom verder te gaan as om bloot erkenning te gee aan die rol wat vroue speel. Sy sê ware bemagtiging gaan oor vennootskap en dat vroue nie hierdie verantwoordelikheid alleen hoef te dra nie.








Comments