Peet Viljoen is in hegtenis oomblikke ná sy aankoms in die land
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 17 minutes ago
- 1 min read
Die omstrede prokureur Peet Viljoen is Dinsdag kort ná sy aankoms by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Volgens die polisie staar hy aanklagte in die gesig wat terugdateer na 2010.
IOL berig Viljoen het pas vanuit New Jersey in Amerika aangekom nadat hy uit die Verenigde State gedeporteer is ná sy aanhouding daar.
Polisiewoordvoerder, kolonel Katlego Mogale, sê Viljoen word aangekla van bedrog, diefstal, vervalsing, die gebruik van vervalste dokumente, asook die oortreding die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite.
Viljoen en sy vrou, Mel, van The Real Housewives of Pretoria- faam, is in die VSA in hegtenis geneem nadat hulle na bewering aan winkeldiefstal skuldig was. Volgens owerhede is die egpaar aangekla van ernstige kleinhandeldiefstal ná ’n beweerde ses maande lange “kaartjie-omruil”-skema by ’n Publix-supermark in Florida.
Mel het reeds weke gelede na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle in afsonderlike gevangenisse aangehou is.
Viljoen sal na verwagting Donderdag voor die Gespesialiseerde Hof vir Kommersiële Misdade in Pretoria verskyn.








Comments