Personeel by Bophelo House moet weer van die huis af werk

Personeel van die Vrystaatse Gesondheidsdepartement wat by Bophelo House in Bloemfontein werk, moet vanaf Woensdag tot verdere kennisgewing weer van die huis af werk.
Die woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Mondli Mvambi, sê in ’n mediaverklaring die besluit volg op ’n verbodskennisgewing van die Departement van Indiensneming en Arbeid weens veiligheids- en nakomingsprobleme by die gebou.
Herstelwerk het sowat drie weke gelede begin en sluit die herstel van daklekkasies, die opgradering van elektriese bedrading en die vervanging van foutiewe proppe en stelsels in.
Die departement verduidelik ook dat ’n skoonmaker geval het nadat water weens ’n lekkende pyp op die vloer beland het. Die departement benadruk dat dit nie riool was nie en dat sy geen ernstige beserings opgedoen het nie.
Dit is nie die eerste keer dat personeel van die huis af moet werk nie. Verlede jaar in Augustus het Bophelo House ook oorstroom en is as onveilig vir werk verklaar.









Comments