top of page

RUGBY: Bokke trap Barbarians in Kaapstad / Junior Bokke karnuffel Aussies in o.20 Wêreld Kampioenskaps-toernooi

  • Writer: Saamgestel deur Armando Pieters
    Saamgestel deur Armando Pieters
  • Jun 30, 2025
  • 1 min read

Die Springbokke het die internasionale seisoen behoorlik op ’n hoë noot begin toe hulle die Barbarians op ’n nat DHL-stadion in Kaapstad opgefrommel het met ’n telling van 54 – 7. Die wêreldkampioen het agt drieë gedruk wat ’n tweekuns ingesluit het van die debutant Vincent Tshituka. Die ervare slot Lood de Jager was weer sy oud self en het veilige lynstaanbesit verseker terwyl die heelagter Aphelele Fassi met sy puik aanvallende skoppe tot die Bokke se eerste twee drieë aanleiding gegee het. Afrigter Rassie Erasmus het kort na rustyd die Bomb Squad-kartel ingespan en elke plaasvervanger het dadelik ’n impak gemaak om die Barbarians se doppie finaal te klink. Eerskomende Saterdag wag Italië op die Bokke in Pretoria met die wedstryd wat om 17:10 op Loftus Versveld afskop. *Die Junior Bokke het ook hulle Wêreld Rugby o.20 Kampioenskaps-veldtog op ’n wennoot afgeskop toe hulle Australië met 73 - 17 in Scunthorpe uit die pad gevee het. Die Suid-Afrikaners wat in Groep A meeding speel volgende teen die verdedigende kampioen Engeland wat Skotland in die openingswedstryd gestoomroller het met 56 – 19. In die ander kragmetings het Frankryk met 49 – 11 teen Spanje geseëvier terwyl Ierland harde bene moes kou teen Georgië vir ’n naelskraapse 35 – 28 oorwinning. Argentinië het vasgeklou teen Wallis en met 34 - 27 deurgeskuur terwyl Nieu-Seeland met 'n wentelling van 14 - 5 teen Italië tevrede moes wees.  

 
 
 

Comments


bottom of page