RUGBY: Die Boland behaal ’n skouspelagtige oorwinning oor die Cheetahs in die vierde wedstryd van die 2025 Curriebeker-seisoen
- Armando Pieters

- Jul 28
- 2 min read
Die 2025 Carling Curriebeker het op ’n hoogtepunt vir die Boland Kavaliers afgeskop toe hulle die Cheetahs in ’n rillerstryd in Wellington met 37 - 35 geklop het. Die tuisspan het halftyd welverdiend voorgeloop met 27 – 14 maar met die omdraaislag het die momentum terug in die Cheethas se guns geswaai veral toe Cameron Dawson as plaasvervanger loskopstut ingeslaan het. Vernon Paulo het in die 73ste minuut oorgegaan vir die Cheetahs se laaste drie maar vyf minute later was hy die groot sondebok toe hy met ’n geelkaart afgestuur is wat Marcqiewn Titus in die 79ste minuut nog vyf punte sien insamel het vir die tuisspan. Dit was egter die Bolanders se Donovan Don se wendrie in die 87ste minuut wat vir nog lank in Wellington onthou sal word toe dié vleuel in die hoekie oorgeduik het. Die Cheetahs speel Vrydagaand weer tuis teen die Pumas wat in hul eerste ontmoeting die Griekwas maklik uitoorlê het met 49 – 28 in Nelspruit. Die Leeus het tande gewys vir die Haaie toe hulle die Natallers deurmekaar gehardloop het met 49 – 5 terwyl die WP geen antwoorde op die Bulle se aanslag in Kaapstad gehad het nie nadat die Ligbloues die tuisspan verras het met 48 – 23. *Die Griffons het in ’n drieëfees die Valke in Kempton Park met 51 – 44 in ekstra tyd geklop om die Eerste Divisie-titel op te raap terwyl die Bok vroue goeie rekenskap van hulself teen die Black Ferns XV-tal gegee het maar ongelukkig met 34 – 26 die onderspit gedelf. Dié vertoning sal egter die Suid-Afrikaners se hoëprestasie-afrigter Swys de Bruin heelwat meer selfvertroue gee met die Wêrelbeker-toernooi wat volgende maand in Engeland afskop.





Comments