RUGBY: Griekwas vs. Pumas in SABeker-eindstryd / Stormers, Bulle & Haaie bespreek plek in VRK kwarteindronde
- Saamgestel deur Armando Pieters

- May 19, 2025
- 1 min read
Die Cheetahs kon nie die eindstryd van die SABeker-reeks haal nie nadat die verdedigende kampioen Griekwas hulle in ’n dramatiese einde met 41 – 38 uitgestof het. Teen halftyd was sake gelykop met 24 – 24 en die wedstryd het heeltyd wipplank gery maar dit was uiteindelik die Poubloues se kaptein en losskakel George Whitehead wat met ’n strafskop in die 70ste minuut verseker het sy span sal die Pumas eerskomende Saterdag in die Mbombela Stadion ontmoet om hulle titel te verdedig. Diè wedstryd skop om 15:00 in Nelspruit af. *Die Sharks, Bulls en die Stormers het hul plekke in die VRK kwarteindronde bespreek nadat hulle onderskeidelik met die Scarlets, Dragons en Cardiff afgereken het. Die Haaie het Scarlets met 12 – 3 in Durban gestuit terwyl die Bulle draaie om die Dragons gehardloop het met ’n wegholsege van 55 – 15 op Loftus Versveld. Die Stormers het ook die wind uit Cardiff se seile gehaal met ’n oorwinning van 34 – 24 in Kaapstad. Die Kapenaars pak die verdedigende kampioen die Glasgow Warriors op Vrydag 30 Mei in die eerste kwarteindstryd terwyl die Bulls en die Sharks tuisveld-voordeel geniet die volgende dag teen Edinburgh en Munster. In die laaste kwareindronde wedstryd sal Leinster wat steeds die boonste plek op die punteleer beklee teen die Scarlets sake uitspook in die Aviva Stadion in Dublin.






Comments