SA se immuniseringskrisis wek kommer
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 1 day ago
- 1 min read
Die Departement van Gesondheid doen ’n beroep op dringende optrede om die dalende immuniseringsyfers in Suid-Afrika te stuit en die uitbraak van siektes wat deur entstowwe voorkom kan word, te voorkom.
Volgens ‘n mediaverklaring van die departement het die aantal babas onder een jaar wat geen inentings ontvang het nie, van 12,1% in 2017 tot 36,3% tussen Januarie en April vanjaar toegeneem.
Die eerste-dosis-dekking onder kinders jonger as een jaar het ook van 87% in 2021 tot 67% verlede jaar gedaal. Sedert Januarie vanjaar is 3 462 laboratoriumbevestigde gevalle van masels aangemeld, met uitbrake onder meer in die Vrystaat.
Die departement sê byna 400 gevalle van Duitse masels is ook aangemeld. ’n Nasionale inentingsveldtog word nou ingestel om kinders wat dosisse gemis het, in te haal.
Die departement moedig ouers en versorgers aan om hul kinders by die naaste gesondheidsfasiliteit vir roetine- en inhaalinentings te neem.








Comments