SA vroue is as beweerde dwelmmuile vasgekeer
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Mar 30
- 1 min read
Updated: Mar 31
Vyf Suid-Afrikaanse vroue, wat glo as dwelmmuile opgetree het, is op die OR Tambo- internasionale lughawe in hegtenis geneem.
Volgens ʼn polisieverklaring is daar op dwelms van meer as R5 miljoen beslag gelê. Dit is nagenoeg R1 miljoen se beweerde dwelms per verdagte. Maroela Media berig die vroue is Saterdag tydens ʼn gesamentlike operasie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy gearresteer.
Volgens die Gautengse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Amanda van Wyk, dui ʼn voorlopige verslag daarop dat die verdagtes via Dubai na China op pad was. Al vyf vroue is deursoek en die dwelms is glo in hul tekkies, onderklere en geslagsdele gevind. Toetse moet nog bepaal watter middels die vrouens vervoer het.
Van Wyk sê ondersoeke duur voort om die presiese omvang van die smokkelnetwerk vas te stel.
Die vyf verdagtes word aangekla van dwelmsmokkelary en sal na verwagting more in die Kempton Park-landdroshof verskyn.








Comments