Sekere troeteldierkos word van die mark onttrek
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Nov 24
- 1 min read
Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) en RCL Foods het ʼn landwye onttrekking van verskeie droë honde- en katkosprodukte aangekondig. Dit kom nadat te hoë vlakke van ʼn natuurlike gifstof in sekere sakke gevind is.
Maroela Media berig dit geld vir meer as 55 000 sakke van Bobtail, Catmor, Canine Cuisine, Optimizor, Ultra Pet en Superwoof wat tussen 26 en 29 Mei, en ook op 4, 5 en 17 Junie 2025 vervaardig is.
Volgens RCL Foods is ʼn mikotoksien wat natuurlik in graan soos mielies voorkom, in sekere rou materiaal gevind, en uiteindelik ook in die finale produkte. Die vlakke was hoër as die toelaatbare hoeveelheid. Dit kan lei tot verlies aan eetlus en spysverteringsongemak.
Geen ernstige siekte is tot dusver aangemeld nie. Die kommissie het verbruikers verder gemaan om nie die geaffekteerde kos vir hul troeteldiere te voer nie.
Eienaars kan die sak terugneem na die winkel vir ʼn terugbetaling of vervanging, sonder dat ʼn bewys van aankoop nodig is.






Comments