Ses is vas ná 'n beweerde bendeverwante moord
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 20 minutes ago
- 1 min read
Ses verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde bendeverwante moord wat in Freedom Square in Bloemfontein plaasgevind het.
Volgens 'n polisieverklaring het ’n gewelddadige konfrontasie tussen die BTK- en Maroma- bendes uitgebreek toe lede van die een bende teruggeslaan het nadat een van hul eie tydens ’n vroeëre onderonsie gesteek en in die hospitaal opgeneem is.
Gemeenskapsbetrokkenheid en intensiewe onderhoude op die misdaadtoneel het gelei tot ’n gekoördineerde operasie by verskeie woonhuise in die Sonskyn-polisiëringsgebied, wat gelei het tot die suksesvolle arrestasie van die ses verdagtes. Tydens die operasie het die span ook moontlike moordwapens wat tydens die pleging van die misdaad gebruik is, teruggevind, asook bloedbevlekte klere wat aan die verdagtes behoort.
Die ses verdagtes sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Ondersoeke duur voort en nog arrestasies word verwag.
Rosestad-nuus het vroeër berig van 'n man wat in Reddersburg in hegtenis geneem is nadat 'n konfrontasie tussen dieselfde bendes ’n onskuldige tiener kritiek beseer het.








Comments