Steengroef-verdrinking: Heidedallers blameer die munisipaliteit
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Oct 23, 2025
- 1 min read
Die gemeenskap van Heidedal in Bloemfontein sê die sluiting van die swembad in dié woonbuurt is 'n groot bydraende faktor in die verdrinking van die 20-jarige Benjamin van Wyk in 'n nabygeleë steengroef-dam verlede week.
Volksblad berig werknemers by die Heidedal-swembad blameer die Mangaung-munisipaliteit, aangesien Van Wyk en sy vriende noodgedwonge by die steengroef-dam moes gaan swem omdat die swembad weens die swak toestand waarin dit is, gesluit is.
'n Werknemer wat anoniem wou bly, sê die swembad is al sedert Februarie 2024 gesluit ná ’n ongeluk waarin ’n personeellid beseer is toe chloorgas glo in die pompstasie ontplof het. Hy het glo sonder behoorlike beskermende toerusting probeer keer dat die gas mense in die omgewing benadeel.
Die werknemer sê sedertdien is niks gedoen om die swembad veilig of funksioneel te maak nie.
Die soektog na Van Wyk se oorskot duur voort.
Die munisipale bestuurder, Sello More, het nie op navrae gereageer nie.





Comments