Twee hoës van die Leërstigting is in die sop weens die verduistering van soldate se geld
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 10
- 1 min read
Twee senior beamptes van die Leërstigting is summier in die pad gesteek en met altesaam R44 miljoen beboet. Dit kom nadat sowat R50 miljoen van tienduisende voetsoldate se geld onder meer verduister is om kredietkaarte vir die weermag se topgeneraals te finansier.
Rapport berig die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) se jare lange ondersoek na finansiële ongerymdhede by die Leërstigting het nou daarop uitgeloop dat die hoofbestuurder, Angel Ramphele, en sy senior boekhouer, Rosa Barros, ook verbied is om vir die volgende 30 jaar enige poste in die finansiëledienstesektor te beklee.
Die bestuursraad van die stigting het in ’n verklaring bevestig dat Ramphele en Barros se dienste met onmiddellike ingang beëindig is. Die raad sê hy het strenger maatreëls ingestel om verdere verliese te voorkom.
Volgens die FSCA word die stigting nou verbied om die weermag se groeplewensversekeringskema namens die sowat 70 000 weermaglede te administreer. Die stigting mag ook geen verdere finansiële dienste aan die weermag lewer nie.
Die FSCA sê voorts die soldate se polisse in die gedrang nie, aangesien die ongemagtigde betalings meestal deur ’n bykomende maandelikse administrasieheffing gefinansier is.
’n Ander diensverskaffer sal nou aangewys moet word om die lede se polisbydraes in te vorder en te administreer.








Comments