Twee is vas in Willows vir onwettige dagga-besit
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jul 21
- 1 min read
Twee verdagtes is in Willows in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hulle in besit gevind is van dagga en dagga-byprodukte met 'n geskatte straatwaarde van R77 400.
Volgens polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Thabo Covane is 'n groep jong mans as deel van stop-en-deursoek-optrede van Operasie Shanela II deursoek, waarna gerolde dagga-sigarette en plastieksakkies met dagga in hul besit gevind is. Die mans het inligting verskaf oor 'n adres waar dagga glo verkoop word.
Op die toneel moes die geslote deur oopgebreek word. Die eerste verdagte is in hegtenis geneem terwyl hy by 'n venster uit probeer vlug het. Die tweede verdagte is aangekeer net voordat hy 'n hondehok met pitbullterriërs wou oopmaak. Die dagga en dagga-byprodukte, as ook kontant, is gekonfiskeer.
Die verdagtes kon geen permit of ander magtiging toon vir die besit, verbouing of verkoop van dagga en dagga-byprodukte nie. Die twee verdagtes sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.








Comments