top of page

Twee massa-skietvoorvalle ruk die wêreld

  • Writer: Saamgestel deur Ilde Roos
    Saamgestel deur Ilde Roos
  • Dec 15, 2025
  • 1 min read

Twee afsonderlike massa-skietvoorvalle het die naweek die lewe van 17 mense geëis en nege ander beseer.


'n Totaal van 15 mense – insluitend 'n 10-jarige meisie – is Sondag in 'n skietery by Bondi Beach in Sydney, Australië dood. Die skietery het plaasgevind tydens 'n geleentheid vir die begin van Hannukah, en dus hanteer die polisie in Nieu-Suid-Wallis dit as 'n terreur-insident.


Die BBC berig polisie sê die skieters was 'n pa en seun. Die pa is oorlede, terwyl die seun in die hospitaal is.


'n Ongewapende omstander het die een skieter van agter af gegryp en hom so ontwapen. Dié vrugteverkoper word nou as 'n held gesien.


Australië se eerste minister, Anthony Albanese, bestempel die aanval as 'n "daad van boosheid" wat die Joodse gemeenskap doelbewus geteiken het.


Intussen het die Amerikaanse polisie 'n verdagte in hegtenis gegeem in verband met 'n skietery by Brown University in Rhode Island, waar twee mense dood en nege ander beseer is.


Al Jazeera berig die vermeende skieter het by die universiteit se ingenieurs- en fisika-departement losgebrand terwyl studente eksamen geskryf het. Die slagoffers was almal studente. Teen Sondag het polisie steeds 'n sterk teenwoordigheid gehandhaaf by wat hulle as 'n aktiewe misdaadtoneel beskryf.


Op eie bodem het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Gauteng Sondag ’n herdenkingsdiens gehou vir 12 mense wat verlede week tydens ’n massaskietery in Saulsville naby Atteridgeville in Gauteng dood is.


Die provinsiale raadvoorsitter, Biskop Sidwell Mokgothu, sê die vlak van geweld en wreedheid wat die gemeenskap en die land getref het, is skokkend.


Polisie by 'n skietvoorval by Brown University, Rhode Island. FOTO: Al Jazeera
Polisie by 'n skietvoorval by Brown University, Rhode Island. FOTO: Al Jazeera

Comments


bottom of page