Twee vas nadat vragmotors N3 versper

Twee verdagtes is in hegtenis geneem ná 'n padblokkade deur 15 vragmotors wat sonder sleutels op die N3 gelaat is. Rosestad-nuus het vroeër berig verkeer op dié hoofweg naby die Roadside/Reitz-wisselaar was in beide rigtings gesluit. Polisiewoordvoerder Mmako Mophiring sê volgens voorlopige ondersoeke is bevind 'n groep mense het die vragmotorbestuurders gestop en die sleutels van die voertuie verwyder. Hulle het beweer die bestuurders het hul werk gevat. Die vragmotorbestuurders beweer ook hul selfone is in die proses geneem. Die pad is ná ongeveer vier uur vir verkeer oopgestel. Polisie het die twee verdagtes op die toneel in hegtenis geneem, en hulle sal na verwagting vandag in die Vrede-landdroshof verskyn op aanklagte van inmenging met infrastruktuur en diefstal.








Comments