Twee Vrystaatse amptenare is vas oor beweerde paspoortbedrog

Drie beskuldigdes, onder wie twee amptenare van Binnelandse Sake, het in die Bothaville-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en oortredings van die Identifikasiewet en Immigrasiewet.
Volgens die Vrystaatse Valke is ’n ondersoek begin nadat Binnelandse Sake in 2022 ’n klag ingedien het oor twee administratiewe klerke in Bothaville wat na bewering sowat tien Pakistanse burgers gehelp het om Suid-Afrikaanse paspoorte te bekom deur die besonderhede van Suid-Afrikaanse burgers te gebruik.
Die paspoorte is glo met foto’s van die Pakistanse aansoekers uitgereik. Die ondersoek het verder aan die lig gebring dat die amptenare na bewering R10 000 ontvang het vir hul hulp.
Die drie beskuldigdes is sonder betaling van borggeld vrygelaat en moet op 20 Januarie volgende jaar weer in die hof verskyn, dié keer in die streekhof.









Comments