Vermeende rowers gebruik twee keer dieselfde taktiek
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 1
- 1 min read
Polisie in Welkom in die Vrystaat ondersoek sake van roof met ’n vuurwapen wat dieselfde modus operandi gebruik het. Dit volg ná twee afsonderlike voorvalle wat in Welkom aangemeld is.
Volgens 'n polisieverklaring word daar beweer dat tydens die eerste voorval drie mans by hul voertuig deur 'n onbekende man genader is, wat R250 aangebied het vir die voertuigbestuurder om hom na 'n kraal naby die gholfbaan te neem om hoenders te gaan haal. Die bestuurder het ingestem en al vier mans het na die kraal gery.
Met hul aankoms by die aangeduide plek was daar geen kraal nie. Na bewering het nog 'n man te voorskyn gekom en ’n vuurwapen op die drie mans gerig het en hulle beveel het om op die grond te lê. Die bestuurder is van ’n selfoon en geld beroof.
In die tweede voorval het 'n man en sy vrou buite 'n slaghuis in sy voertuig gesit toe hy deur 'n man genader is. Hier is die slagoffer met dieselfde versoek om hoenders te gaan haal na dieselfde plek gelok. Weer is geld en 'n selfoon gesteel, en die slagoffer het te voet gevlug.
In die lig van hierdie voorvalle word lede van die publiek gemaan om waaksaam te wees en om nie onbekende persone in hul privaat voertuie te vervoer nie. Geen inhegtenisnemings is in hierdie stadium gemaak nie en ondersoeke duur voort.








Comments