Verskeie verdagtes is in die Mangaung-metro vasgetrek

Verskeie verdagtes is tydens gesamentlike polisie-optredes regoor die Mangaung-metro in hegtenis geneem.
Daar is ook op dwelms, vermoedelik gesteelde goedere en ander onwettige items beslag gelê.
Vrystaatse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Thabo Covane, sê die optredes het onder meer op Thaba Nchu, Bloemfontein, Bainsvlei en langs die N1 plaasgevind.
Drie verdagtes is in Thaba Nchu in hegtenis geneem nadat die polisie na bewering dwelmtransaksies waargeneem het. Metamfetamien, CAT en dagga is onder die dwelms waarop beslag gelê is.
In 'n afsonderlike voorval het die Bainsvlei Sigbare Polisiëringseenheid en Sekuriteitsmaatskappy, BloemSec, vyf verdagtes vir huisbraak en diefstal in hegtenis geneem. Skootrekenaars, selfone en juweliersware wat as gesteel aangemeld is, is teruggevind.
Nog 11 mense is tydens 'n padblokkade op die N1 vir beweerde oortredings van die Immigrasiewet in hegtenis geneem, terwyl nog drie onwettige immigrante tydens inspeksies by spazawinkels aangekeer is.
Covane sê soortgelyke misdaadvoorkomingsoperasies sal voortgaan in misdaadbrandpunte regoor die Vrystaat.









Comments