Verwarring heers steeds oor hoe en wanneer die Aarto-verkeerswet sal geld
- Saamgestel deur Armando Pieters

- Jul 23, 2025
- 1 min read
Ná ‘n aankondiging deur die adjunkminister van vervoer, Mkhuleko Hlengwa, dat die omstrede Aarto-verkeerswet vanaf 1 Oktober sal geld, is daar steeds groot onduidelikheid oor presies hoe dié wet geïmplementeer moet word.
Verwarring het ontstaan ná Hlengwa se aankondiging dat Aarto vanaf 1 Oktober in 69 munisipaliteite geïmplementeer sal word en die res op 1 Februarie volgende jaar. Dit is sedertdien in sy toespraak op die vervoerdepartement se webwerf verander om die Oktober-datum na 1 Desember te verander, terwyl die Februarie-datum onveranderd gebly het.
Maroela Media berig selfs dít is volgens die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) nog tentatief. Volgens RTIA-woordvoerder Monde Mkalipi, sal die strafpuntstelsel eers in werking tree sodra Aarto landswyd geld.
Hy voeg by dat implementering sonder die strafpuntstelsel bloot sal verander hoe munisipaliteite boetes uitreik, en as hulle nie ʼn behoorlike proses volg nie, sal hulle steeds aanspreeklik wees in die hof.
Verskeie vorige pogings om Aarto in te stel is op die nippertjie uitgestel, net om later doodgeswyg te word.






Comments