Vrae ontstaan oor Bfn armlastiges se munisipale skuld wat afgeskryf word
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jul 2
- 1 min read
Vrae word geopper oor hoe die Mangaung-metro kon toelaat dat behoeftige huishoudings se munisipale skuld so oploop dat individuele gevalle selfs meer as R1 miljoen oorskry. Dit kom nadat die raad gevra is om meer as R500 miljoen se munisipale skuld deur armlastige huishoudings af te skryf.
Netwerk24 berig die metroraad is gevra om die munisipale skuld van meer as 20 000 residensiële eiendomme af te skryf nadat dié huishoudings nou op die munisipaliteit se armlastigheidsregister gevoeg is. Die skuld het opgeloop voordat hulle geregistreer is.
Dié eiendomme het almal ’n markwaarde van R100 000 of minder en kwalifiseer dus outomaties vir die armlastigheidsregister.
Volgens VF Plus-raadslid in die metro, Valerie de Kock, is dit 'n mislukking in finansiële bestuur. Sy sê iewers in die proses het die metro rekeninge uitgereik, toegekyk hoe die skuld tot buitengewone vlakke groei, en niks gedoen nie.
De Kock sê die armlastigheidsbeleid bestaan om ’n deernisvolle rede, wat die party ondersteun. Sy sê egter as daar nie verantwoordbaarheid is nie, is dit bloot nalatigheid wat as deernis voorgehou word.
Die waarnemende hoofbestuurder van die Mangaung-metro, Nicolette Maysiels, sê by navraag die metro kan sekere dienste nie net staak nie. Sy sê selfs watertoevoer kan nie heeltemal afgesny word nie weens gesondheidsredes.
Volgens haar is die ingryping wat in dié geval toegepas is, om die kliënte op die armlastigheidsregister te registreer sodat hulle gesubsidieerde munisipale dienste kan ontvang.








Comments