Vrouebeskuldigde in die mensehandel-saak wys glo pornografie aan haar dogters
- Armando Pieters

- Jul 17
- 1 min read
Die vroulike beskuldigde wat saam met drie mans van onder meer mensehandel in Bloemfontein aangekla word, het na bewering twee jaar gelede haar dogters aan pornografie blootgestel en seksueel gereed gemaak.
Dit het aan die lig gekom tydens die getuienis in die Bloemfonteinse landdroshof van 'n ondersoekbeampte van die Valke, Linda Steyn. Die vrou en haar medebeskuldigdes het om borgtog aansoek gedoen, wat deur die staat teengestaan is.
Netwerk24 berig die hof het gehoor die beskuldigde het haar kinders glo ook onder dwang slaapmedisyne ingegee. Hulle is uit haar sorg verwyder. Sy word ook aangekla van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Die saak teen die beskuldigdes, wat betrokke is by 'n ontkleeklub in Ferreira in Bloemfontein, spruit uit 'n voorval in Julie 2022 toe 'n 26-jarige vrou 'n advertensie op Facebook gesien het vir werk as 'n kroegmeisie en daarop gereageer het.
Hulle staan tereg op aanklagte van mensehandel, verkragting en poging tot moord. Die landdros sal na verwagting Donderdag uitspraak in die borgtogaansoek lewer.
Die saak waarby die kinders betrek word, duur voort.





Comments