Vrystaatse boere word aan die brandverbod herinner
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- Jul 30
- 1 min read
Boere en ander grondeienaars in die Vrystaat word gemaan om hul voorbereidings vir die veldbrandseisoen nou af te handel voordat die jaarlikse brandverbod op oop vure Saterdag, 1 Augustus, in werking tree.
Volgens Nova News waarsku die Moqhaka-brandbeskermingsvereniging dat die huidige kurkdroë veldtoestande en strawwe winterkoue die gevaar van verwoestende veldbrande aansienlik verhoog.
Die vereniging sê veldbrande veroorsaak jaarliks miljoene rande se skade aan weiding, oeste, heinings, infrastruktuur, vee en wild, en hou ook 'n ernstige gevaar vir menselewens in.
Grondeienaars word aangeraai om seker te maak dat brandstroke voorberei is, brandbestrydingstoerusting in werkende toestand is en personeel weet hoe om in 'n noodgeval op te tree.
Die vereniging waarsku dat die meeste veldbrande deur menslike nalatigheid veroorsaak word en sê 'n paar minute se versigtigheid kan 'n verwoestende brand voorkom.








Comments