Vyf mense moet hof toe vir beweerde moord oor 'n verkeerde identiteit
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Apr 8
- 1 min read
Drie mans en twee vroue is in hegtenis geneem vir die beweerde moord op Johannes Moshemane Mollo in Bronville in Welkom.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê op hul sosialemediablad die slagoffer was Sondag saam met 'n vrou op pad huis toe toe hulle deur die vermeende verdagtes gekonfronteer is. Een van die vroulike verdagtes het die slagoffer as Sandisile geïdentifiseer.
Polisiewoordvoerder sersant Palesa Thabana sê die slagoffer het toe vir die verdagtes gesê dat hy nie Sandisile is nie en dat hulle hom met iemand anders verwar. Daar word verder beweer dat die verdagtes die slagoffer en sy vriendin begin aanrand het. Die slagoffer het toe probeer om die vroue te keer wat sy vriendin aangerand het, toe hy op die grond neer val.
Die polisie het die slagoffer bewusteloos met drie steekwonde in sy rug gevind. Die oorledene is na bewering deur die verdagtes verwurg en met ’n skerp voorwerp gesteek voordat hulle te voet van die toneel gevlug het.
’n Saak van moord is daarna vir verdere ondersoek geopen, en die verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.








Comments