Woonplekke is vernietig weens storms in die KZN-Middelland
- Saamgestel deur Jana Roos

- Dec 27, 2025
- 1 min read
Meer as 50 woonplekke is vernietig, en meer as 150 huishoudings ontwortel, toe 'n hael- en donderstorm Vrydagaand groot skade in die KwaZulu-Natalse Middelland aangerig het.
SABC-nuus berig die munisipaliteite wat die ergste deurgeloop het, is volgens aanduidings Emadlangeni, Dannhauser en Newcastle. Drie mense is vir beserings behandel.
Die departement van Samewerkende Regering sê rampbestuurspanne is na die gebiede gestuur om bestek te neem van die skade, en om bystand te verleen. 'n Woordvoerder, Senzwelwe Mzila sê daar is ook berigte dat staatsinfrastruktuur beskadig is.
Donderstorms en hael het ook groot skade in Limpopo aangerig.
Volgens berigte is elektrisiteitsinfrastruktuur in die Tzaneen-gebied beskadig, en is kragtoevoer na dele van die dorp soos Letsitele, Tarentaalrand en Maake geraak. Volgens die munisipaliteit het daar ook bome en padtekens omgewaai wat paaie versper.
Die munisipaliteit sê spanne is na die gebiede gestuur vir herstelwerk, en om paaie op te ruim.







Comments