Afgetrede soldate vat die Verdedigingsdepartement hof toe

Afgetrede lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, oftewel die SANW, vat die Verdedigingsdepartement hof toe nadat berig is dat duisende militêre afgetredenes en hul gesinne hul mediese dekking vanaf 1 November kan verloor.
Volgens SABC News het die Regular Force Medical Continuation Fund gesê hy sal na verwagting ophou om eise te betaal omdat die fonds nie meer finansieel volhoubaar is nie.
Afgetredenes, gestremde veterane, weduwees en weeskinders kan deur die besluit geraak word.
Afgetrede SANW-generaal Les Rudman sê die regstappe is nodig om die regering se langstaande verpligtinge teenoor militêre lede te beskerm.
Hy sê ’n tydelike oplossing is nodig om die finansiële tekortkominge aan te spreek, maar dat die herstrukturering van militêre gesondheidsdienste en wysigings aan die Verdedigingswet ook oorweeg moet word.








Comments