Bfn polisielede is vas nadat 'n liggaam naby 'n kerk gevind is
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Mar 27
- 1 min read
Twee Bloemfonteinse polisielede word van moord aangekla nadat ’n man se liggaam langs die pad naby ’n kerk in die stad gevind is.
Netwerk24 berig Opod se woordvoerder, Phaladi Shuping, sê daar word beweer dat die polisielede op ’n klag oor die roof van ’n selfoon gereageer het. Hulle het op drie mans afgekom wat naby ’n kerk in Bainsvlei geloop het, en het hulle daarvan beskuldig dat hulle die selfoon versteek het, ondanks die mans se ontkenning van enige kennis van die selfoon.
Die polisielede het die drie mans na die Bainsvlei-polisiekantoor geneem waar hulle glo aangerand is. Volgens Shuping het die polisielede die mans toe teruggeneem na die plek waar hulle aangekeer is, en geëis dat hulle die selfoon moet uitwys. Die mans het weer ontken dat hulle iets met die diefstal te doen het. Hulle is toe na bewering met knuppels en die vuis aangerand, weer agter in die vangwa gelaai en terug na die polisiekantoor geneem.
Met hul aankoms by die polisiekantoor het een van die mans klaarblyklik geen teken van lewe getoon nie. Die ander twee mans is uit die vangwa gehaal en die polisielede is toe glo met die oorledene by die polisiekantoor weg. Dit is glo dié man se liggaam wat Maandag deur ’n verbyganger in die veld langs ’n kerk in Bainsvlei gevind is.
Shuping sê een van die polisielede is dieselfde aand in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn. Die tweede polisiebeampte wat na bewering ook by die voorval betrokke was, is in die hospitaal.








Comments