BKS: Namibië se krisis kan SA beesboere raak

Namibië se ergste bek-en-klouseerkrisis in ses dekades kan Suid-Afrikaanse beesboere raak indien die handel in speenkalwers ontwrig word en meer Namibiese vleis op die plaaslike mark beland.
Namibië lewer normaalweg speenkalwers aan Suid-Afrikaanse voerkrale, waar die diere dikwels goedkoper as plaaslike kalwers aangekoop word. Indien die toevoer weens die uitbreking onderbreek word, kan die beskikbaarheid van kalwers in Suid-Afrika afneem en pryse styg.
Nova News berig Vrystaat Landbou se Friedl von Maltitz sê Suid-Afrikaanse beesprodusente kan aanvanklik by ‘n tekort aan Namibiese kalwers baat, maar die groter vleismark se situasie is meer ingewikkeld. Volgens hom produseer Suid-Afrika meer vleis as wat die plaaslike mark benodig. Die land is daarom sterk van uitvoermarkte afhanklik.
Indien uitvoergeleenthede beperk word en ‘n oorskot vleis plaaslik ontstaan, kan pryse egter onder druk kom en produsente se winsgrense verklein.









Comments