Brendan Peyper word weer hof toe gesleep
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 6 hours ago
- 1 min read
SA Concerts se Eduard Hugo dagvaar Brendan Peyper vir die meer as R300 000 wat die sanger hom glo skuld. Dit kom nadat die voorlopige sekwestrasiebevel teen Peyper onlangs opgehef is.
Rapport berig die dagvaarding is Maandag op Peyper beteken.
Rosestad-nuus het vroeër berig Hugo en Peyper se regspanne het in Mei 'n ooreenkoms bereik om Peyper se voorlopige sekwestrasiebevel op te hef. Ingevolge dié ooreenkoms dagvaar Hugo nou vir Peyper vir die helfte van die verlies van die mislukte Loslit-fees in 2023 in Krugersdorp, asook die regskoste van die sekwestrasie-aansoek én die dagvaarding. Die fees het 'n verlies van meer as R700 000 gely.
Hugo voer aan Peyper was in ’n 50-50-vennootskap met hom, wat Peyper ontken.
Hugo sê al die stukke en die getuienis wat deel gevorm het en ingedien is as deel van die sekwestrasie-aansoek, vorm ook deel van die siviele saak wat voorspruit uit dié dagvaarding.
Luidens die dagvaarding moet Peyper binne 10 dae aandui of hy die siviele eis gaan teenstaan, en, indien wel, binne 20 dae daarna sy pleit indien.
Peyper se regsverteenwoordiger het nie vandeesweek op Rapport se navrae gereageer nie.








Comments