Daar is geen planne om rondlopervee in te ent nie
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Nov 29, 2025
- 1 min read
Die Vrystaatse departement van landbou sê daar is geen plan om die duisende rondlopervee in townships in die provinsie teen siektes in te ent nie. 'n Veearts van die departement, Jurgens Barnard, sê rondloperbeeste word net ingeënt as hulle tekens van ’n siekte toon.
Volksblad berig die landbougemeenskap is egter baie bekommerd dat rondlopervee nooit teen enige siektes ingeënt word nie en dat dit bydra tot die verspreiding van siektes soos bek-en-klouseer.
Die visepresident van Vrystaat Landbou (VL), Friedl von Maltitz, sê dit is van die uiterste belang dat alle vee teen siektes soos bek-en-klouseer ingeënt word omdat dit die enigste manier is om die verspreiding van sulke siektes te verhoed. Hy sê die VL vra gereeld dat die departement ook boere in die townships bystaan en hul vee inent.
'n Veewagter net buite Bloemfonein, Sewa Lesala, sê dit word egter nie gedoen nie. Hy sê siektes het al baie van sy en ander veewagters in die omgewing se diere laat vrek en dit maak hulle bekommerd.






Comments