Die DA wil korrespondensie tussen McKenzie en Ramaphosa onder oë kry

Die DA het ’n aansoek by die presidensie ingedien om toegang te kry tot alle korrespondensie tussen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, en president Cyril Ramaphosa.
Dit kom nadat die departement van Sport, Kuns en Kultuur verlede Dinsdag sy konsepverslag oor die Sokkerwêreldbekeruitgawes voorgelê het.
Maroela Media berig die party wil weet of Ramaphosa die buitengewoon groot afvaardiging van 18 mense, waarvan die meerderheid personeel van McKenzie se kantoor was, goedgekeur het.
Die DA se Leah Potgieter sê die ministeriële handboek bepaal dat ’n minister deur hoogstens twee ondersteuningspersoneellede vergesel mag word. Die DA wil daarom weet waarom McKenzie se afvaardiging veel groter was en of die presidensie vooraf daarvan bewus was.
Potgieter sê die kwessie gaan egter nie net oor die koste van die reis nie, maar ook oor aanspreeklikheid vir die manier waarop belastingbetalers se geld bestee is.








Comments