Die polisie kry bloedneus oor die bevordering van 'n Bloemfonteinse beampte
- Ilde Roos
- 7 minutes ago
- 1 min read
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het weer bloedneus gekry – dié keer vanaf die vakbond Solidariteit, weens onbillike arbeidspraktyk teen ’n bekwame polisiebeampte van Bloemfontein.
Netwerk24 berig die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het gelas dat luitenant-kolonel Lizette de Villiers tot kolonel bevorder word. De Villiers is een van enkele kliniese sielkundiges in diens van die polisie.
De Villiers het in 2022 om die pos van provinsiale bevelvoerder van gesondheid en welstand aansoek gedoen. Sy het geruime tyd in die pos waargeneem voordat dit geadverteer is. Sy was op die kort lys en is deur die paneel as die beste kandidaat aanbeveel.
Ondanks al die aanbevelings, asook bykomende motiverings, is ’n ander kandidaat ingevolge die polisie se beleid van regstellende aksie aangestel.
Solidariteit het die saak namens De Villiers na die KVBA verwys, wie gelas het dat die polisie wel onbillik teenoor De Villiers opgetree het deur haar nie te bevorder nie.
Sy is vandeesweek terugwerkend tot Oktober 2022 tot kolonel bevorder.

Comments