Ekurhuleni: Die agterstand in DNS-verslae kom onder die loep

'n Dringende skrywe aan die senior bestuur van die polisie versoek 'n indiepteverslag oor die DNS-bewyse wat verband hou met die Ekurhuleni-vrouemoorde. Dit kom ná nege vroue se liggame in ʼn tydperk van twee maande in dié gebied gevind is.
Maroela Media berig DA-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, wil by die polisie weet wanneer relevante biologiese monsters ingesamel is, wanneer dit die forensiese laboratoriums bereik het, wanneer dit ontleed is, wanneer profiele teen die Nasionale Forensiese DNS-databasis nagegaan is, en of enige skakels tussen mense en misdade aangewys is.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder Cameron sê hierdie kwessie strek veel wyer as net Ekurhuleni.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Cameron sê laboratoriumkapasiteit is egter ʼn groot bekommernis. Prosesse wat geoutomatiseer behoort te wees, word toenemend handmatig uitgevoer omdat outomatiese toerusting uit diens gestel of nie beskikbaar is nie, of nie behoorlik in stand gehou en van voorrade voorsien word nie. Hy sê DNS-bewyse kan misdade met mekaar verbind, herhaaldelike oortreders identifiseer en leidrade vir ondersoeke verskaf. Vertragings in verwerking kan beteken dat hierdie skakels eers later ontdek word as wat behoort te gebeur.








Comments