G20: Die Withuis sê Ramaphosa versprei ‘fopnuus’
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Nov 21, 2025
- 1 min read
Die Amerikaanse Withuis beskuldig president Cyril Ramaphosa daarvan dat hy “fopnuus” versprei deur te sê dat Amerika op die nippertjie ’n U-draai gemaak en besluit het om aan die G20-beraad in Johannesburg deel te neem.
SABC News berig Ramaphosa het laat Donderdagmiddag aangekondig dat Amerika ’n ommeswaai oor sy G20-deelname gemaak het nadat Trump einde verlede week ’n algehele boikot afgekondig het.
Volgens Netwerk24 het die woordvoerder van die Withuis, Karoline Leavitt, egter Donderdag op ’n mediakonferensie gesê Amerika sal aan geen besprekings op die beraad deelneem nie. Volgens haar sal ’n verteenwoordiger van die Amerikaanse ambassade Sondag, die laaste dag van die beraad, daar wees om die simboliese G20-presidentskap van Suid-Afrika oor te neem.
Amerika het Woensdag gedreig dat die verklaring van die G20-beraad niks sal beteken as hy nie daarby betrokke is nie. Die Suid-Afrikaanse regering het dit toe al duidelik gemaak dat hy nie aan Amerikaanse eise sal toegee nie.
Trump het vroeër op sy sosialemediaplatform, Truth Social, geskryf geen Amerikaanse amptenaar sal die beraad bywoon nie.







Comments