G4S-werknemers wag steeds
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 16 minutes ago
- 1 min read
Byna 200 voormalige G4S-werknemers by die Grootvlei Maksimum Korrektiewe Sentrum in die Mangaung-metro sit steeds sonder salarisse of sekerheid oor hul diensstatus.
Dit ondanks ’n Arbeidshof-bevel dat hulle na die Departement van Korrektiewe Dienste oorgeplaas moet word.
Luidens ’n mediaverklaring berei Solidariteit nou regstappe voor indien die departement nie uitvoering aan die bevel gee nie.
Die Arbeidshof het op 30 April beslis dat die werknemers met behoud van hul diensjare en bestaande regte na die departement oorgeplaas moet word. Die hof het op 17 Augustus ook die departement se aansoek om kondonasie vir sy laat aansoek om verlof tot appèl geweier.
Werknemers wat intussen ander werk gekry het, sukkel glo met pensioen- en diensadministrasie.
Die parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sê 310 van die 495 voormalige G4S-werknemers is deur die departement se werwingsproses aangestel, terwyl 309 poste by die sentrum steeds vakant is.








Comments