Google is nou ook betrokke by hoër onderwys in SA
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Mar 31
- 1 min read
Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het 'n Memorandum van Verstandhouding oor KI- en digitale vaardigheidsontwikkeling met Google Suid-Afrika aangegaan. Dié ooreenkoms poog om digitale vaardighede te verbeter, KI in hoër onderwys te integreer, en werksmagontwikkeling in Suid-Afrika te bevorder.
Die departement sê in 'n verklaring op sy webtuiste dit sal toegang bied tot opleidingsprogramme vir openbare universiteite, TVET-kolleges en CET-kolleges, insluitend ’n aanvanklike 10 000 Google Career Certificate-beurse.
Die Adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Mimmy Gondwe, en Google Suid-Afrika se direkteur, Kabelo Makwane, het Maandag die ondertekeningsgeleentheid by Google Suid-Afrika se hoofkantoor in Johannesburg waargeneem.
Gondwe sê digitale en KI-vaardighede is noodsaaklik om die moderne wêreld te navigeer en toekomstige werksgeleenthede te verseker. Dit is noodsaaklik dat studente, veral dié in afgeleë en township-gebiede, voorberei word vir die arbeidsmark en oor die regte vaardighede beskik vir indiensneembaarheid, insluitend selfindiensneming en entrepreneurskap.
Makwane sê inklusiwiteit is die sleutel, want wanneer Suid-Afrikaners bou met instrumente wat hul omgewing en tale verstaan, word tegnologie ’n ware dryfveer vir groei.








Comments