Hoogtepunte van die Vrystaat se provinsiale rede
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- Feb 20
- 2 min read
Die Vrystaatse provinsiale rede is Donderdag by die Old Greys-sportterrein in Bloemfontein gelewer - waar premier MaQueen Letsoha-Mathae op die herstel van plaaslike regering, ekonomiese groei en beter dienslewering gefokus het.
Sy sê baie munisipaliteite sukkel steeds met swak finansiële bestuur, dienslewering en bestuurstabiliteit, maar dat ingrypings reeds aan die gang is.
Volgens die premier bly werkskepping, die bekamping van armoede en die bou van ’n bekwame staat kernprioriteite.
Dit terwyl uitdagings soos bek-en-klouseer, misdaad en ekonomiese druk steeds aandag geniet.
Meer besonderhede oor die regering se drie hoofprioriteite.
Ekonomiese groei en werkskepping bly die Vrystaatse regering se grootste fokus. Letsoha-Mathae sê die doel is om belegging te lok, werk te skep en armoede te verminder.
Sy voeg by werksgeleenthede deur regeringsprogramme het reeds duisende inwoners bereik, met verdere uitbreiding wat beplan word.
Die provinsie versterk ook sy rol in hernubare energie, infrastruktuurontwikkeling, landbou en die ondersteuning van klein ondernemings.
Die strategie is daarop gemik om inklusiewe groei te bevorder en meer geleenthede vir inwoners te skep.
Verder word daar na die vermindering van armoede en hoë lewenskoste in die provinsie gekyk aangesien dit ’n dringende prioriteit vir die Vrystaatse regering bly.
Meer as ’n miljoen Vrystaters ontvang maatskaplike toelaes, met verdere programme wat fokus op ondersteuning vir kwesbare gemeenskappe.
Letsoha-Mathae sê voedingskemas, maatskaplike programme en ekonomiese insluiting bly belangrik om mense uit armoede te help en toegang tot geleenthede te verbeter.
Die regering werk ook om werksgeleenthede te skep.
Die bou van ’n bekwame en doeltreffende staat is volgens premier MaQueen Letsoha-Mathae noodsaaklik vir beter dienslewering.
Sy sê ingrypings is aan die gang om swak munisipale bestuur, finansiële probleme en diensleweringsuitdagings aan te spreek.
Die fokus bly op beter bestuur, infrastruktuurontwikkeling, water- en sanitasieprojekte en die verbetering van munisipale kapasiteit.
Die doel is om vertroue in plaaslike regering te herstel en dienslewering aan inwoners te verbeter.








Comments